Die VF Plus dring daarop aan dat die Ekurhuleni-metro dringend ingryp by die Driehoek-tehuis vir bejaardes in Rose Innesweg in Driehoek, Germiston.
Tydens ʼn oorsigbesoek van die metro se portefeuljekomitee vir menslike nedersettings, is bevind dat die betrokke departement nie sy mandaat nakom om die tehuis, wat aan die metro behoort, behoorlik in stand te hou nie.
Die plafonne in sekere gedeeltes van die tehuis is besig om in te sak, geisers is stukkend en die brandblussers is in 2011 laas gediens.
Die metro het ʼn verantwoordelikheid teenoor die bejaarde inwoners van die Driehoek-tehuis om te sorg dat hulle in ʼn veilige omgewing woon.
Die VF Plus het versoek dat die oorsigkomtee besoek aflê by alle tehuise vir bejaardes, jeughuis en tehuise vir mense met gestremdhede wat die metro se verantwoordelikheid is, om die toestand vas te stel waarin inwoners woon.


