Ekonomiese ontwikkeling vir Eersterust is belangrik en die VF Plus verwelkom die openbare vergadering wat die Gautengse wetgewerkomitee onlangs hieroor aangebied het.
Die nuwe voorsitter van die ekonomiese ontwikkelingskomitee en VF Plus-LPW, adv. Anton Alberts, het die vergadering gereël as deel van die komitee se oorsigfunksie.
Dit was nadat hy pleidooie ontvang het van lede van die bruin gemeenskap dat daar ook aandag aan hul probleme gegee moet word.
Tydens die vergadering het die departement van ekonomiese ontwikkeling die geleentheid gekry om finansiële- en werksverslae aan die publiek voor te hou. Daar is veral gefokus op ekonomiese ontwikkelingsprojekte in Eersterust en Mamelodi-Oos.
Die Eersterust-gemeenskap het dit duidelik gestel dat die provinsiale regering nie veel doen om ekonomiese ontwikkeling daar te bevorder nie. Die gemeenskap se frustrasie is nie nuut nie en versterk die persepsie dat hulle nie ondersteuning kry nie, omdat hulle nie swart genoeg is nie.
Adv. Alberts het onderneem dat die komitee as deel van sy oorsigfunksie oor die departement sal sorg dat daar daadwerklike ontwikkelingsprojekte in Eersterust geloods sal word om werksgeleenthede kan skep.
Daar moet veral gefokus word op die opleiding en finansiële ondersteuning van entrepreneurs asook die daarstel van innovasie-laboratoriums vir die skep van nuwe produkte.
Die departement van ekonomiese ontwikkeling het verskeie ondernemings aan die gemeenskap gemaak vir die uitrol van ekonomiese ontwikkelingshulp soos opleiding en finansiële ondersteuning.
Die VF Plus ondersteun die beginsel van selfbestuur van gemeenskappe waar inwoners aktief betrokke is by die besluitnemingsprosesse wat hul lewe beïnvloed. Daarom was dié openbare vergadering ‘n positiewe stap tot bemagtiging van die Eersterust-gemeenskap.
Daar sal egter aandag gegee moet word aan die Tshwane-metro se gebrekkige lewering van krag, water en ander basiese dienste. Die positiewe impak van die regeringsprogramme sal ook afhang van hoe billik en deursigtig dit geïmplementeer word.
Die VF Plus in die Tshwane-metro sal daarom toesig uitoefen om toe te sien dat die departement van ekonomiese ontwikkeling se ondernemings daadwerklik uitgevoer word.
Die VF Plus is nie net ‘n party wat kritiseer nie, maar spring in en werk saam met gemeenskappe om hulle op te hef.


