Die VF Plus beskou die EFF se jongste veldtog om alle koloniale standbeelde en gedenktekens in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) te verwyder, as blote politieke opportunisme.
Die EFF gaan tydens ʼn raadsvergadering van die NMBM ʼn mosie indien om onder meer die Prestor John-gedenkteken, die standbeeld van koningin Victoria, die Anglo-boereoorlog gedenkteken en die portrette van voormalige wit burgemeesters, te verwyder.
Hierdie mosie is blote politieke opportunisme van die EFF wat gewoonlik voor verkiesingstyd op die voorgrond wil tree. Dit lewer geen bydrae tot die algemene welstand van die inwoners van Nelson Mandelabaai nie.
Ongeag die oorsprong van enige standbeeld, beeld of gedenkwaardigheid van geskiedkundige waarde, behoort dit gerespekteer en bewaar te word, omdat dit deel vorm van Suid-Afrika se geskiedenis en erfenislandskap.
Net omdat ʼn individu of party nie van ʼn sekere gedeelte van die geskiedenis hou nie, of nie daardie geskiedenis ken of respekteer nie, gee hulle nie die reg om ʼn standbeeld of gedenkwaardigheid wat daardie geskiedenis uitbeeld, uit die openbare oog te verwyder nie.
Dit is nog altyd die VF Plus se standpunt dat die geskiedenis nie weggewens kan word met die verwydering van standbeelde of gedenktekens nie. Daar kan eerder nuwe standbeelde en gedenktekens bygevoeg word om almal se geskiedenis uit te beeld.
Die VF Plus wil die EFF en ANC aanraai om eerder te fokus op belangrike sake soos dienslewering as om hulle te bemoei met die wegdoen en miskenning van ʼn geskiedenis wat hulle gebring het tot waar hulle hulself bevind in ʼn demokratiese land en omgewing.