fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC so vervalle dat hy nou al spog met sy mislukkings

(Debat in NRP: Versnel die verskaffing van maatskaplike dienste, veiligheid en die bevordering van ekonomiese hervormings vir ekonomiese herstel)

Die ANC-regering verkeer in die waan dat dit ʼn groot prestasie is om miljoene Suid-Afrikaners van maatskaplike toelaes te voorsien. Dit is verstommend dat hy nie kan insien dit is nie ʼn prestasie nie, maar ʼn duidelike bewys van sy mislukking as regering.

Die regering spog daaroor dat maatskaplike toelaes die hoogte ingeskiet het oor die afgelope 25 jaar. Die realiteit is dat Suid-Afrika se maatskaplike toelaestelsel een van die wêreld se duurste is vir belastingbetalers om te onderhou. Suid-Afrika het sowat 18 miljoen heeltydse begunstigdes terwyl sowat 10 miljoen persone ‘n tydelike verligtings-noodtoelaag ontvang.

Dit beteken dat bykans 47% van die bevolking maandeliks bakhand staan vir ʼn toelae om te oorleef omdat daar nie werk is nie. En die ANC dink dit is ʼn prestasie.

Slegs 770 maatskappye betaal meer as 60% van die korporatiewe inkomstebelasting en van die meer as 60 miljoen mense in Suid-Afrika betaal slegs 7,4 miljoen persoonlike inkomstebelasting. Hiermee moet die 28 miljoen werkloses onderhou word. Dit is nie volhoubaar nie, en steeds spog die ANC daarmee.

Die ANC se ideologiese strewe na ʼn kommunistiese bestel en die drang om ten alle koste die ekonomie te transformeer het Suid-Afrika tot ʼn welsynstaat laat verval.

ʼn Studie deur die Cambridge Nasionale Buro vir Ekonomiese Navorsing het bevind dat Suid-Afrika se werkloosheidsvlakke in 1994 tussen 13- en 15% was. Dit staan tans op hoër as 40%; ʼn toename van rondom 200%. Dit is nieteenstaande die miljarde rande wat bestee is aan werkskeppings-inisiatiewe, swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.

Tog speel die regering steeds die raskaart wanneer dit by die ekonomie kom. Die skuld vir alles wat verkeerd gaan, word op die handjievol wittes gepak terwyl dit toenemend duidelik raak dat wittes vinnig agteruit boer teen die swart bevolking wat welvaart aanbetref. Data van die firma New World Wealth wys dat wit miljoenêrs in die land vanaf 2007 tot 2015 met 42% afgeneem het terwyl die aantal miljoenêrs met ʼn voorheen benadeelde agtergrond met ‘n verstommende 179% gegroei het.

Wat die veiligheid van landsburgers aanbetref, skets die volgende paar syfers van die polisie die ontstellende werklikheid van die omvang van misdaad in die land: Daar word gemiddeld sowat 60 voertuie daagliks gekaap, 75 mense word vermoor en een vrou word elke 36 sekondes verkrag. Slegs 8,6% van die beskuldigdes in verkragtingsake word eindelik gevonnis. Interpol noem Suid-Afrika met rede die wêreld se verkragting-hoofstad.

Hierdie hoë vlakke van misdaad hou direk verband met die hoë misdaadvlakke en uitdagende sosio-ekonomiese toestande. Nogtans bestee die regering meer as R3.3 miljard per jaar aan BBP-beskerming om ministers wat die land die afgrond in regeer, veilig te hou.

Suid-Afrika kan die vernietigingswerk van die ANC nie langer bekostig nie. Die stembus moet in 2024 ʼn nuwe, beter era sonder die ANC vir die land inlui.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.