Soos met onteiening sonder vergoeding het die EFF-stert weer die ANC rondgeswaai oor sy verbreking van formele bande met Israel. Beide met gevolge wat niks goed vir die land voorspel nie.
Vandag se besluit van ’n ANC- en EFF-meerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) van die parlement om diplomatieke bande met Israel te verbreek, is uiters kortsigtig, nie in belang van Suid-Afrika nie en sal die land toenemend isoleer.
Dit maak ’n bespotting van die ANC-regering en president Cyril Ramaphosa se sogenaamde pogings om deur gesprekvoering te help om vrede te beding in die voortslepende Midde-Oosterse krisis met een party wat nou onwelkom is in die gesprek.
Dit terwyl daar juis nou ʼn groot behoefte is aan gesprek en onderhandeling.
Die moontlikheid word geopper dat vyftig gyselaars van Hamas vrygelaat kan word om ʼn tydelike opskorting van vyf dae van Israelse militêre bedrywighede te bewerkstelling.
Dit is ʼn welkome vertrekpunt om gesprekvoering deel te maak van ʼn proses om die konflik te beëindig.
Suid-Afrika het homself nou uitgesluit van enige bilaterale gesprekvoering oor ʼn kwessie wat die hele wêreld raak.
Geen woord van Suid-Afrika, president Cyril Ramaphosa of enige van sy gesante sal nou meer ernstig opgeneem word in enige gesprek oor vrede in dié konflik nie.
Die ANC het Suid-Afrika se neus in hierdie kwessie afgesny om die EFF-stert tevrede te stel.