Die VF Plus sal die Gautengse regering se dodelike plan om oor vier maande alle kinderpleegsorgsake self oor te neem, met hand en tand beveg.
Luidens ʼn berig in Rapport op 19 November, sal kinderbeskermingsorganisasies nie meer vanaf 1 April 2024 finansiële hulp van die Gautengse regering ontvang vir kinderpleegsorgsake nie.
Die Gautengse regering het met die Life Esidimeni-tragedie gewys dat hy nie in staat is om na minderjariges en gestremde persone om te sien nie.
Die VF Plus sal ʼn aanmaning aan die departement van maatskaplike sorg rig om van die plan af te sien en by gebreke om daaraan gehoor te gee, sal ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien word.
Die party sal ook kinderbeskermingsorganisasies bystaan met die daarstel van ʼn regspan en fondsinsameling om litigasie moontlik te maak.
Dit is duidelik dat hierdie besnoeiings ʼn herhaling van die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se pogings aan die begin van die jaar is om liefdadigheidsorganisasies se fondse te sny.
Hierdie fondse word dan herlei na sy eie verkiesingsprogramme soos die aanstel van vredesbeamptes, aankoop van hommeltuie en die vervaardiging van noodknoppies.
Hierdie projekte is niks anders nie as verkiesingfoefies wat nie die diepliggende strukturele probleme, soos werkloosheid, in die provinsie aanspreek nie.
Die oorname van kinderpleegsorgsake is weereens ʼn bewys van Lesufi se behoefte aan sentralisering onder die staat waar laasgenoemde bepaal wie kwalifiseer vir hulp en wie nie.
Weens die onbeholpenheid van Lesufi se provinsiale regering en veral die maatskaplike departement, gaan die staat nou besluit wie lewe en wie sterf.
Dit terwyl die Gautengse regering nie beskik oor die professionele maatskaplike sorg-opleiding, bestuursvaardighede, empatie en liefde om behoorlik na minderjariges om te sien nie.
Dit geld ook vir die versorging van gestremde persone.
Die VF Plus sal hom op elke terrein verset teen hierdie onmenslike besluit wat veel erger sal wees as die Life Esidimeni-tragedie.
Die enigste manier om Gauteng en sy weerlose inwoners te red, is om te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Gauteng herstel en bou.