Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lephalale: Waarnemende munisipale bestuurder se salaris belangriker as gemeenskappe wat dors ly

Tydens ʼn spesiale raadsitting van die Lephalale-plaaslike munisipaliteit (Ellisras) wat gister plaasgevind het, het die VF Plus teen ’n salarisverhoging vir die waarnemende munisipale bestuurder, me. Motlalekgomo Mmope, gestem.

Die party is van mening dat beskikbare fondse eerder aangewend moet word om Ellisras en omliggende dele se voortslepende water- en rioolkrisis op te los.

Mmope se salaris is verhoog van R1 213 606 per jaar na R1 608 718 en haar aanstelling is ook vir die volgende drie maande goedgekeur.

Volgens wet mag ʼn waarnemende munisipale bestuurder ’n verhoging kry, maar slegs as die munisipaliteit finansieel sterk genoeg is om dit te doen.

Wat veral kommer wek is die feit dat die vorige munisipale bestuurder, me. Maria Conquyt, op spesiale verlof is en steeds ook haar salaris van R1.6 miljoen verdien hangende ‘n ondersoek vir beweerde korrupsie teen haar.

Grootmaat reservoirs staan soos wit olifante omdat die infrastruktuur onvoldoende is weens kabeldiefstal of omdat die boorgate, wat eers geboor is nadat die reservoirs opgerig is, leeg is.

Die munisipaliteit se invorderingspersentasie staan tans op 72% teenoor die 95% wat begroot is en die uitgawes is reeds 25% meer as verlede jaar hierdie tyd.

Dus staar die munisipaliteit finansiële probleme in die gesig.

Inwoners ly dors terwyl die ANC-beheerde owerheid eerder sy kaders se sakke wil vul as om sy wetlike verpligting rakende basiese dienslewering te prioritiseer.

Gemeenskappe van Seleka- en Shongwane-nedersettings moet kilometers ver stap om water uit riviere te kry waar diere drink.

Die enigste manier om Suid-Afrika te red is deur te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.

Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.