In die jongste poging van die sogenaamde “progressive caucus” (die MK-party en die EFF) om mekaar in hul “rewolusionêre ywer” te oortref, het die EFF Dinsdag in Kimberley ‘n memorandum met eise aangaande Orania aan die Noord-Kaapse premier se kantoor oorhandig.
Die kern van die EFF se eis is dat Orania volgens hom strydig met die gees en die letter van die Suid-Afrikaanse Grondwet is en daarom ontbind moet word.
Die memorandum benadruk dat Orania nie net ‘n plek is nie, maar ‘n gedagte wat “die siel van Suid-Afrika in gevaar stel”.
Die VF Plus is sedert sy stigting toegewyd aan selfbeskikking, soos deur onder meer Orania vergestalt. Daarom verwerp dié party die EFF se eise ondubbelsinnig.
In ‘n veelvolkige land soos Suid-Afrika, is daar dikwels ‘n meerderheid wat lippediens aan die erkenning van verskeidenheid lewer, maar dit in werklikheid ontken. Só ‘n beleid vervreem minderhede van die ruimte om ‘n dinamiese kultuur deur verskeie instellings te bedryf. Dit is gewoonlik juis in die naam van nasionale eenheid.
Die teenoorgestelde benadering is om minderhede die volle ruimte vir kulturele uitlewing te gun en selfs van die staat se kant af te bevorder.
Ironies genoeg verlig dit die druk van minderhede om hulle van die staat te bevry en so word nasionale eenheid bewaar.
Oor die afgelope dertig jaar het die ANC-regering Afrikaners toenemend op die kantlyn geplaas deur kwotas op alle terreine af te dwing; van sportspanne en studente wat sekere beroepsrigtings mag volg, tot ondernemings se bestuur en hul werknemers.
Nogtans het die regering groepe geduld wat hul eie instellings op kultuurgrondslag tot stand bring, sonder om op grond van ras te diskrimineer. Orania is een voorbeeld daarvan.
Volgens die EFF se memorandum is dit verkeerd en moet dit in Orania se geval, in die howe getoets word.
Hierdie poging van die EFF benadruk waarom Afrikaners en ander minderhede polities en andersins moet mobiliseer om hulself te beskerm.
Oor een ding is die EFF reg. Orania is meer as ‘n plek; dit staan vir ‘n idee. Anders as wat die EFF dit sien, is daardie idee vryheid.
Omdat vryheid ‘n ideaal is wat nooit uit die mode gaan nie, sal Orania ook nie val nie.