Die VF Plus is gekant teen enige vorm van belastingverhoging en verwelkom die besluit om die beoogde BTW-verhoging te skrap. Hierdie besluit is geneem weens druk uit verskeie oorde, waaronder die VF Plus.
Die VF Plus het die afgelope paar maande tydens talle bilaterale gesprekke met die ANC en in die ander toepaslike forums alternatiewe voorgestel om die fiskale krisis aan te spreek sonder ‘n verhoging in BTW.
Die party het deurentyd bygedra tot die soeke na konstruktiewe oplossings wat ekonomiese groei kan stimuleer en koste-effektiewe staatsbesteding sal verseker.
‘n Aangepaste begroting sal nou ter tafel gelê word. Dié nuwe begroting mag nie die BTW-verhoging vervang met ‘n ander vorm van belastingverhoging of heffing nie.
Die VF Plus sal deelneem aan die prosesse wat nou gaan volg om seker te maak die alternatiewe begroting strek tot voordeel van alle gewone Suid-Afrikaners wat reeds oorbelas is.
‘n BTW-verhoging van net een persentasiepunt oor twee jaar sou in die huidige ekonomiese klimaat met hoë vlakke van werkloosheid ‘n groot slag gewees het vir miljoene mense wat sukkel om kos op die tafel te plaas.
Die begroting of fiskale raamwerk se mikpunt moet eerder wees om ‘n gunstige omgewing te skep om ekonomiese groei te stimuleer.
Die VF Plus se uitgangspunt is nog deurentyd dat daar gesoek moet word na langtermyn-oplossings soos die inperking van staatsbesteding en beleidsverandering om groei te stimuleer eerder as om ‘n bykomende las op die belastingbetaler te plaas.


