Nieteenstaande die feit dat die E-Tolwet te midde van groeiende openbare verset more in werking tree, is die aansoek van die Vryheidsfront Plus en sy vennote om die Wet met ‘n interdik te keer, onsuksesvol nadat die hof bevind het die aansoek is nie dringend genoeg nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts het regter Mabel Jansen van die Noord-Gautengse Hooggeregshof geen beslissings gemaak oor die ongrondwetlikheid van die aansoek nie terwyl dit die basis van die Tolpad Aksiegroep (TAG) se aansoek gevorm het.
In haar uitspraak het regter Jansen onder meer gesê daar is ‘geen skade wat nie reggestel kan word op ‘n latere datum nie’, sê adv. Alberts.
“Die VF Plus stem hoegenaamd nie hiermee saam nie. Ons het aangevoer dat die Wet self en die inwerkingstelling daarvan ongrondwetlik is. Dit het die basis van ons aansoek gevorm en is nie in die hof betwis nie.
“In effek beteken dit nou dat ‘n wet wat volgens ons ongrondwetlik is, binne ure in werking gaan tree. Miljarde rande is hierby betrokke en die impak op padgebruikers en die streek se ekonomie gaan enorm wees.
“Hoe die hof in die lig hiervan kon beslis dat die aansoek nie dringend is nie, is onverstaanbaar. Ons verwag selfs sterker teenkanting van die publiek wat nou sal moet betaal vir ‘n stelsel en ‘n wet waaraan hulle onregmatig onderwerp word.
“Ons is tans besig om te besin oor die uitspraak. Die geleentheid is steeds daar om die saak op die gewone rol te plaas waar daar nie sprake van dringendheid sal wees nie. Ons het nogtans verwag dat die hof meer ferm teenoor die staat sou optree synde die erns van die aansoek.
“Ons is ook teleurgesteld oor die kostebevel. Dit beteken dat instansies wat in openbare belang optree teen vergrype van die staat, moet betaal indien die beslissing teen hom is. Dit is nie goed vir die regte van ‘n land se inwoners in ‘n demokratiese bestel nie.
Oor die laat aansoek sê adv. Alberts dit is hoegenaamd nie doelbewus gedoen nie.
“Agter die skerms was ons die afgelope maande in briefwisseling met die staatspresident self oor die aangeleentheid waar ons onder meer versoek het dat sy regsmening oor die Wet aan die VF Plus beskikbaar gestel word.
“Van die president se kantoor was daar geen poging om hierop te reageer of om oor dringende vrae rakende die grondwetlikheid van die Wet te antwoord nie.
“Nadat die vroeë datum vir die inwerkingstelling bekend gemaak is, het ons geen keuse gehad as om ‘n dringende aansoek voor die hof te bring nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403