Ná volgehoue druk van die VF Plus op die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank), gaan daar eindelik aandag aan die plaaslike rioolkrisis gegee word.
'n Munisipale tegniese span is afgevaardig om die rioolwerke in Emalahleni/Witbank te besoek om 'n oplossing vir die probleem te vind wat al etlike jare duur.
Dit is veral die rioolstasie in Ben Fleur wat 'n kritieke punt bereik het aangesien onverwerkte riool direk in die omliggende vleilande gepomp word.
Van daar af beland dit in die Doringpoortrivier van waar dit na die Witbankdam vloei en uiteindelik in die Olifantsrivier opeindig.
Dit hou nie net ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier in nie, maar skep ook ‘n groot omgewingsgevaar.
Die VF Plus het die munisipale bestuurder, mnr. Humphrey Mayisela, herhaaldelik versoek om ondersoek in te stel na die rioolstortings in die munisipaliteit en om maatreëls in te stel om die probleem op te los.
Die munisipaliteit is egter in so ‘n benarde finansiële posisie dat bestaande infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou of vervang kan word nie.
Mayisela het uiteindelik Vrydag op die VF Plus se jongste versoek gereageer.
Daar sal intussen dringend alternatiewe oplossings gevind moet word om die besoedeling stop te sit. Dit is moontlik met die nodige politieke wil.
Oplossings moet gevind word wat finansieel haalbaar is en werksgeleenthede skep.
Die VF Plus sal aanhou om krag- en waterprobleme by die munisipaliteit aan te meld en druk op amptenare te plaas om in die beste belang van Emalahleni se inwoners op te tree.


