fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC beskerm spandabelrige burgemeester

Die VF Plus is geskok dat die ANC vandag tydens ‘n raadsvergadering teen ‘n mosie vir die ontslag van die burgemeester in die Lekwa Teemane-plaaslike munisipaliteit (Bloemhof en Christiana), Moses Mohlabi, gestem het ten spyte van sy grootskaalse vermorsing van belastinggeld.

Dit is ‘n skande dat die ANC skynbaar vasberade is om sy ampsdraers ten alle koste te beskerm, ongeag die erns van hul optrede en die skade wat hulle aanrig.

Die VF Plus het ‘n mosie van wantroue in Mohlabi vir stemming voor die raad gebring nadat dit bekend geword het dat hy onder meer R121 duisend per maand aan ‘n luukse ampsvoertuig bestee.

Hierdie spandabele besteding vind plaas in ‘n munisipaliteit wat reeds tegnies bankrot is en onlangs ‘n onbefondsde begroting goedgekeur het. Dienslewering in Bloemhof en Christiana het reeds bykans tot stilstand gekom weens ‘n gebrek aan werkbare toerusting en geld.

Die ANC se volgehoue steun vir sulke siniese plundering van belastinggeld bevestig weereens dat die kultuur van selfverryking en toeëiening ten koste van gemeenskapsbelange en dienslewering, onherroeplik ‘n kerndeel van die party geword het.

Die VF Plus het in reaksie op die uitslag van die stemming daarop aangedring dat die speaker in die raad, Mpho Pilane, sy wetlike verpligting nakom en ‘n veelparty-komitee saamstel om die burgemeester se optrede volledig te ondersoek.

Die gedragskode vir raadslede, sowel as die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, skryf voor dat die speaker só ‘n ondersoek van stapel moet stuur sodra sulke ongerymdhede en wangedrag aan die lig kom. Die uitslag van só ‘n ondersoek kan onder meer daartoe lei dat ‘n raadslid nie net van sy amp ontneem word nie, maar vir ‘n periode van twee jaar uit enige deelname aan munisipale politiek verbied word.

Die VF Plus sal voortgaan om in die belang van die gemeenskap te stry vir skoon en verantwoordbare regering in die munisipaliteit.

Die inwoners van Bloemhof en Christiana verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.