Die VF Plus is saam met die inwoners van Tzaneen opgewonde oor die besoek van 2022 se mej. Suid-Afrika, Ndavi Nokeri, aan haar tuisdorp, maar nie oor die koste daaraan verbonde nie.
Die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit (Haenertsburg, Tzaneen) het onderneem om pa te staan vir onder meer 'n beplande gala-ete vir 200 gaste op 27 Augustus by die Tzaneen Country Lodge, die huur van klanktoerusting, saal en verhoog, die kunstenaars wat gaan optree, luukse tente vir baie belangrike persone sowel as die verblyf vir mej. Suid Afrika en haar gevolg van 20 mense vir die twee dae.
Dit is buitensporig vir ‘n dorp waar die verval weens gebrekkige dienslewering duidelik sigbaar is.
Dit is nie bekend wat die rojale onthaal gaan kos nie. Raadslede het vanoggend bloot ‘n kennisgewing ontvang van die munisipaliteit se voorneme om vir die geleentheid te betaal.
Die VF Plus is nie ongeneë om toe te sien dat die land se voorste skoonheidskoningin onthaal word nie.
Daar moet egter oordeelkundig te werk gegaan word en dit sou net billik wees van die munisipaliteit om die besoek en die koste daaraan verbonde in die raad te bespreek.
Die VF Plus sal vrae rig oor die goedkeuring van die uitgawe en wat die bedrag beloop.
Die party sou wou sien dat daar ‘n meer realistiese en bekostigbare verwelkoming vir mej. Nokeri gereël word, veral omdat sy as ‘n boorling van Tzaneen bewus is van die gebrek aan dienslewering en algemene verval van die dorp.
‘n Onnodige vermorsing van geld sou dié welkome besoek van mej. Nokeri ongelukkig bittersoet maak.