Die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, se stilswye oor die direktief wat een van sy stasiebevelvoerders uitgereik het oor die aanmelding van sake is onaanvaarbaar en kommerwekkend.
Die skrywe van die stasiebevelvoerder van Meyerton, kol. Lepitla, verbied alle polisiebeamptes om ‘n saak van ernstige of gewone aanranding, opsetlike saakbeskadiging en diefstal te open indien daar nie ‘n verdagte betrokke is nie. Kol. Lepitla beweer ook dat dit ‘n direkte opdrag van die provinsiale kommissaris is.
In die brief word polisielede ook versoek om, indien daar ‘n verdagte is, die saak met vier senior beamptes te bespreek.
Dit benadeel mense wat beroof is om ‘n saaknommer te kry en ‘n eis by hul versekeringsmaatskappy in te dien.
Dit ontmoedig verder mense om enige saak aan te meld.
Die direktief moedig mense ook indirek aan om self hul sake te ondersoek terwyl die taak deur speurders uitgevoer moet word.
Hierdie misdade kan nie minder belangrik geag word as moord en al die ander ernstige misdrywe nie.
Die VF Plus het in Mei vanjaar reeds ‘n skrywe oor die aangeleentheid aan lt.genl. Mawela gerig en het tot op hede geen terugvoer ontvang nie.
Intussen word die mense van Meyerton benadeel.
Hierdie absurde opdrag is ‘n minagting van die regstelsel en sulke onwaarhede kan nie geduld word nie.
Die toepassing van die direktief beïnvloed misdaadstatistiek in Gauteng en uiteindelik ook nasionaal.
Die VF Plus het ‘n afspraak met die kommissaris aangevra om die saak met hom persoonlik te bespreek.