Die VF Plus in Limpopo is verheug oor die besluit van die ANC se provinsiale uitvoerende raad om ontslae te raak van die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane/Potgietersrus) se burgemeester, Andrina Matsemela, en hoop dat haar makkers spoedig ook die deur gewys word.
Die VF Plus het sedert 2015 geveg om van Matsemela ontslae te raak. Die party is verheug dat dié volgehoue druk nou vrugte afgewerp het.
Onder Matsemela se leiding het belastingbetalers van die munisipaliteit bykans geen effektiewe dienslewering ontvang nie weens wanbestuur, korrupsie en onwettige aanstellings.
Die VF Plus is wel bekommerd dat die ANC beplan om haar te herontplooi buite die munisipaliteit. Herontplooiing van ANC-kaders van een munisipaliteit na ‘n ander is een van die groot redes vir die verval van munisipaliteite.
Die regte ding om te doen, sal wees om haar en al die ander skuldige amptenare strafregtelik aan te kla vir die verval van die Mogalakwena-munisipaliteit.
Só sal ‘n duidelike waarskuwing aan alle munisipale amptenare gestuur word dat korrupsie en wanbestuur nie ongestraf gelaat sal word nie.