Die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, het vanmiddag aangekondig dat uitgelekte vraestelle op 15 en 17 Desember herskryf gaan word. Om dit te verwelkom, is soos om 'n ambulans te verwelkom: Indien daar nie 'n ramp was nie, was dit nie nodig nie.
Wiskunde vraestel 2 word om 14:00 die vyftiende herskryf, Fisiese Wetenskappe om 09:00 die sewentiende en Inligtingstegnologie sowel as Rekenaartoepassingstegnologie om 14:00 dieselfde dag.
'n Matriekeksamen ontwrig kandidate in 'n normale jaar. Die rooster word met groot sorg uitgewerk sodat daar voldoende tyd vir voorbereiding is. Verder is die afsluiting van die eksamen gewoonlik 'n bron van groot vreugde en dit word met oorgawe gevier.
Die emosionele impak daarvan om aan die einde van die eksamen weer te gaan sit, boonop vir van die moeilikste vraestelle van die jaar, moet nie onderskat word nie.
Bowendien word matriekvraestelle met die grootste sorg maande vooruit voorberei en gemodereer, om die hoogste moontlike gehalte te verseker. Dit is uiteraard nie moontlik met 'n vraestel wat op so 'n kort kennisgewing beskikbaar moet wees nie.
Mense se matriekpunte is iets wat lewenslank in werks- en studie-aansoeke vereis word. Daarom dat leerlinge, onderwysers en selfs ouers geen steen onaangeroer laat om so goed moontlik te presteer nie. Dit geld veral vir sleutelvakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskappe.
In werklikheid beleef matrikulante vanjaar iets wat in die "grootmenswêreld" endemies is: 'n Klein groepie wat oneerlik optree en óf daarmee wegkom, óf die lewe vir almal anders verontrief.
Die VF Plus wens almal betrokke sterkte en helderheid van verstand toe.
* IT en RTT vraestelle word net oorgeskryf waar daar tegniese probleme was toe die eintlike vraestel geskryf is. Dit het nie uitgelek nie en almal skryf nie oor nie.