fbpx
Vryheidsfront Plus

Vroue leef steeds in vrees ongeag 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Masibuko, versoek om polisie-optrede te verskerp teen seksuele oortreders en te fokus op voortvlugtende persone wat gesoek word vir seksuele misdrywe.

Te midde van uitgebreide bewusmakingveldtogte en opleidingsessies voor en gedurende die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, het Gauteng steeds die hoogste geweld-misdaadsyfer teen vroue en kinders in die land.

Gedurende Julie tot September vanjaar is 2 467 sake van seksuele misdrywe teen vroue aangemeld.

Die Honeydew-polisiekantoor aan die Wes-Rand het landswyd die hoogste syfers.

In die tydperk vanaf Julie tot September is 1 893 verkragtingsake in Gauteng aangemeld waarvan Mamelodi-Oos polisiekantoor die derde hoogste aanmeldingsyfer toon. Volgens die polisie se statistiek is die oortreder/s in die meeste gevalle aan die slagoffer bekend.

Daar is wel pogings van die owerhede om ‘n verskil te probeer maak, soos bykomende howe vir seksuele oortredings, spesiale opleiding vir polisielede, ‘n tolvrye noodnommer, skuilings en meer.

Geslagsgeweld is egter ‘n diepgewortelde siekte in die Suid-Afrikaanse samelewing wat nie sal genees indien mans nie aangemoedig word om deel van die oplossing te wees en nie deel van die probleem nie.

Voorverlede week is ‘n verkragtingsaak van ‘n tweejarige dogtertjie in ‘n Gautengse hof aangehoor. In nog ‘n geval het ‘n 45-jarige man skuldig gepleit op twee aanklagte van verkragting op twee minderjarige meisies.

Die VF Plus het ook die volgende voorstelle aan die LUR gemaak vir die bekamping van hierdie omvangryke misdaad:

• Elke polisiekantoor moet toegerus wees met nood-verkragtingspakke.
• Polisiebeamptes moet die nodige opleiding kry oor hoe om met gevalle van geslagsmisdaad en verkragting in die besonder te werk en om met die slagoffers te handel;
• Die strafregstelsel en howe teen geslagsgeweld moet korrek begin funksioneer en bestaande wetgewing oor geslagsgeweld moet korrek toegepas word;
• Daar moet seker gemaak word dat veilige-sones vir slagoffers by elke polisiekantoor is.
• Die skep van addisionele 24-uur tolvrye inbeldienste waar slagoffers hulp en leiding kan ontvang.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.