‘n Droewige Kersfees staar munisipale amptenare en raadslede van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit in die gesig weens die munisipaliteit se versuim om sy water- en kragrekening te betaal.
Die munisipaliteit is vir ‘n tweede keer binne etlike dae hof toe gesleep vir ‘n beslagleggingsbevel op die munisipaliteit se primêre bankrekening.
Emfuleni bedien Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging.
Randwater se beslagleggingsbevel is Maandag goedgekeur weens die munisipaliteit se uitstaande skuld van R1,1 miljard.
Daarbenewens het Eskom verlede week ‘n hofbevel bekom om Emfuleni se bankrekening te laat bevries weens uitstaande skuld van R1,3 miljard.
Hierdie is slegs die begin van Emfuleni se probleme omdat ander krediteure waarskynlik binnekort dieselde roete gaan volg as Randwater en Eskom.
Buiten dat Emfuleni geen salarisse sal kan betaal nie, sal geen betalings ook aan debiteure gemaak kan word nie.
Vir inwoners beteken hierdie beslagleggings dat reeds gebrekkige dienslewering nou totaal tot stilstand knars.
Inwoners en veral getroue belastingbetalers word nou gestraf vir die ANC se wanadministrasie en onvermoë om Emfuleni effektief te bestuur.
Emfuleni verdien beter as die ANC.