Die uitslag van die tussenverkiesing in Wyk 1 van die Bela-Bela-plaaslike munisipaliteit (Warmbad), dien as bewys dat die VF Plus volgehoue groei in steun geniet. Die VF Plus het dié wyk van die DA gewen.
Die VF Plus het 59% van die stemme op hom verenig.
Inwoners van Bela-Bela het opgestaan vir hul dorp en gemeenskap en hul gewig ingegooi agter die kandidaat van die VF Plus, Jee-Dee Cloete.
Hy is die nuutverkose wyksraadslid en het reeds in hierdie termyn as proporsionele raadslid baie sukses tot voordeel van die gemeenskap behaal.
Die party het met 75.6% in aantal stemme vanaf verlede jaar se munisipale verkiesing gegroei met die 915 stemme wat hy op hom verenig het.
Die DA het 546 stemme gekry en sy aantal stemme het dus met 58.7% afgeneem sedert verlede jaar se verkiesing.
Die inwoners van wyk 1 het ten gunste van beter dienslewering en die VF Plus se belofte van hoop en daadwerklike opposisie teen die ANC gestem. Hulle het opgestaan vir hul wyk en hul dorp se toekoms.
Hierdie uitslag toon dat die VF Plus die groeiende alternatief is en bewys die toename in vertroue van kiesers. Die VF Plus luister na sy kiesers en tree daadwerklik in hul belang op.
Die oorwinning van dié wyk besorg die VF Plus ‘n ekstra setel in die raad en stel die party in staat om sterker opposisie teen die wanbestuur van die ANC te bied.
Die VF Plus bedank elke kieser wat sy vertroue in die party gestel het en gestem het vir die groeiende alternatief wat ware verandering én verbetering bring. Hulle is die ware wenners van hierdie verkiesing.