Die VF Plus neem met belangstelling daarvan kennis dat die departement van basiese onderwys 'n onlangse dokument oor geslagsneutrale kleedkamers as bloot 'n besprekingsdokument in 'n vroeë fase bestempel.
Die party was gereed om op te tree indien dié riglyne op kort kennisgewing by skole geïmplementeer sou word.
Die dokument gaan inderdaad, soos die departement verontwaardig aandui, oor meer as toilette.
Dit omvat alles op skool wat op enige manier met die twee tradisionele geslagte van manlik en vroulik verband hou – van noemname, name op registers, aanspreekvorme en sportdeelname tot die gewraakte toilette.
Die punt is dat, volgens die dokument, transgender kinders se reg tot gehalte onderwys slegs verwesenlik word as daar nêrens in die skoolstelsel verwysings na geslag is nie.
Dit verhef 'n uitsondering tot die reël en maak van die reël iets beledigend.
Intussen het die VF Plus deur middel van 'n parlementêre vraag vasgestel dat meer as R30 miljoen, hoofsaaklik afkomstig van die menseregtekommissie en buitelandse donateurs, reeds in die ontwikkeling van hierdie "besprekingsdokument" belê is.
Die vraag ontstaan hoe dié geld bestee is. Die "riglyne" self is 23 getikte bladsye sonder enige ontwerpkenmerke.
Dié bedrag kan slegs regverdigbaar wees as leermateriaal inderdaad gedruk en gereed vir verspreiding is. Die VF Plus het wel 'n onderwysersgids, gemik op voorskoolse kinders, in elektroniese formaat gesien.
Die VF Plus verwelkom die afstand wat die departement van basiese onderwys tussen sy "riglyne" en die skooljaar van 2023 plaas, maar vermoed steeds dat hy nie oop kaarte speel nie.
Die departement kan dus op volgehoue waarneming van die VF Plus oor hierdie aangeleentheid reken.