Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit: Uitdeel van kospakkies kort voor tussenverkiesing uiters verdag

Die ANC-beheerde Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit se tydsberekening met die uitdeel van kospakkies so kort voor die tussenverkiesing op 18 Maart in Wyk 7, is verdag en kom neer op die blatante misbruik van munisipale bates.

Die voertuie wat vir die aflewering van kospakkies aangewend word, behoort aan diensverskaffers wat die munisipaliteit gekontrakteer het vir besoedelingsbeheer.

Daar kan met reg gevra word waarom kospakkies wat vir maande lank nie beskikbaar was nie, nou skielik net weke voor ’n tussenverkiesing uitgedeel word.

Dit is verder ironies dat dieselfde diensverskaffer wat al jare lank sukkel om basiese dienste te lewer, nou skielik aangewend word vir sogenaamde “gemeenskapswerk”.

Die tydsberekening en wyse van hierdie aksies laat by die VF Plus geen twyfel nie dat dit ’n desperate poging is om kiesers te beïnvloed.

Dit is algemeen bekend dat sekere rolspelers vrees dat hulle wyk 7 kan verloor – ’n wyk waar kontrakte vir basiese dienslewering na raming sowat R30 miljoen per jaar beloop.

In stede daarvan dat inwoners volhoubare en deurlopende diens ontvang, word munisipale hulpbronne nou klaarblyklik misbruik vir politieke doeleindes.

Hierdie praktyk is ’n direkte aanval op demokratiese integriteit. Openbare fondse en munisipale hulpbronne behoort nooit as politieke ruilmiddels aangewend te word nie.

Die VF Plus het reeds die munisipale bestuurder, dr. Edward Rankwana, gevra om die voorval dringend te ondersoek en om ’n volledige verslag aan die raad en die publiek te lewer oor wie die besluit geneem het, watter kostes aangegaan is en of enige wetlike of etiese riglyne oortree is.

Hierdie ondersoek moet ook duidelik maak watter dissiplinêre stappe geneem gaan word teen diegene wat verantwoordelik is.

Inwoners van Wyk 7 het ’n reg op eerlike, deursigtige en volgehoue dienslewering – nie ongeoorloofde opportunisme wat net kort voor verkiesings opduik nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.