Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staat se eie loon in uitgebreide werkeprogram wys op dubbele standaarde met minimum loon

Die regering wil bloot nie insien dat die minimum loon, wat sedert 2019 geld, teenproduktief is en meer skade as goed doen nie.

Die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, het die nuwe loon vandag aangekondig en het dit vanaf R28,79 met R1,44 per uur verhoog tot R30,23.

Midde in ‘n ekonomiese stilstand en groot werkloosheid in Suid-Afrika, sal hierdie oorregulering van die staat aanhou veroorsaak dat mense hul werk verloor.

Een van die groot redes vir die sukkelende ekonomie is juis die land se drakoniese arbeidswetgewing wat werksverliese veroorsaak eerder as wat dit werk skep. Dit kom wesenlik neer op die sabotering van die arbeidsmag.

Die VF Plus sê hoegenaamd nie dat werkers uitgebuit moet word en vir ‘n hongerloon moet werk nie, maar eerder dat die mark en omstandighede die loon moet bepaal.

Suid-Afrikaners is ruimhartig en sal waar moontlik uit hul eie meer as die vasgestelde loon betaal, maar daar is ook omstandighede soos met pensioenarisse wat bloot nie die voorgeskrewe loon vir byvoorbeeld ‘n huiswerker kan betaal nie.

In sulke gevalle sal die werker sy of haar werk verloor indien hulle nie bereid sou wees om verkorte ure te werk nie.

Groepe soos plaaswerkers, huiswerkers en tuinwerkers wat nie meer as ‘n sektorale vasstelling beskou word nie en op standaard gebring is met die nasionale minimum loon, is veral kwesbaar.

Hierteenoor is die voorgeskrewe loon van werkers in die staat se uitgebreide openbare werkeprogram bykans die helfte minder as wat op die privaat sektor afgedwing word.

Dit staan nou op R16,62 per uur vanaf R15,16 per uur en dui op die onregverdigheid van die stelsel.

Die VF Plus is van mening dat ‘n private werkgewer binne sy vermoë ‘n regverdige loon sal betaal. Dit moet nogtans binne die werkgewer en werknemer se mag wees om hieroor te onderhandel.

Baie werkloses sal eerder vir ‘n paar rand minder per uur werk as om nie vir hul gesinne te kan sorg nie.

Die regering moet eerder sy beleid en arbeidswetgewing aanpas om werk te skep as om die private arbeidsmark toenemend te dwing om meer te betaal vir mense wat weens die staat se onbevoegdheid werkloos is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.