Die VF Plus is nie verbaas oor die gekwalifiseerde oudit vir die 2024/25-finansiële jaar wat die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het nie.
Merafong se finansiële- en bestuurskrisis is duidelik sigbaar.
Die munisipaliteit skuld tans Rand Water en Eskom onderskeidelik R1,6 miljard.
Weens die herhaalde versuim om afbetalingsooreenkomste na te kom, moes Rand Water die watertoevoer die afgelope ses maande met 40% verminder. Dit het veroorsaak dat hoogliggende gebiede min of selfs geen water het nie.
Eskom ontvang beswaarlik maandelikse betalings, wat daaglikse kragonderbrekings veroorsaak en die reeds wankelrige dienslewering verder onder druk plaas.
Verouderde infrastruktuur vererger die benarde situasie. In die afgelope finansiële jaar is waterverliese van 34% aangeteken, terwyl kragverliese 48% beloop weens onwettige koppelings, vandalisme en ongemeterde verbruik.
Swak skuldinvordering van slegs 51% en ’n gebrek aan die politieke wil om die munisipaliteit suksesvol te bestuur, beklemtoon die omvang van wanbestuur.
Die OG het ook melding gemaak van ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose of vermorste uitgawes wat dringend aangespreek moet word.
Dit is duidelik dat aanspreeklikheidshandhawing ontbreek en dat amptenare verantwoordbaar gehou moet word.
Senior personeel kan nie langer wegkom met swak besluitneming sonder om die gevolge te dra nie.
Die ANC het Merafong op sy knieё.
Slegs ’n party soos die VF Plus, wat inwoners se behoeftes eerste stel en streef na ’n funksionele munisipaliteit, kan die situasie red.


