(Debat in parlement: Vestiging van gedeelde waardes in 'n gepolariseerde, diverse samelewing om nasiebou te bevorder waar almal geborge kan voel)
Die ANC het oor die afgelope 28 jaar die mooi uitsprake van oud-president Nelson Mandela oor nasiebou totaal tot niet gemaak met woord en daad wat die land uitmekaar skeur en ten gronde laat gaan.
Mandela het in sy inhuldigingstoespraak op 10 Mei 1994 gesê: "Uit die ervaring van ‘n buitengewone, langdurige menslike ramp, moet 'n gemeenskap gebore word waarop die hele mensdom trots sal wees.”
Ook: “Daar sal nooit, nooit, nooit weer in hierdie pragtige land onderdrukking van een deur ‘n ander wees wat die land ‘n muishond in die oë van die wêreld sal maak nie”.
Wat het die ANC-regering egter gedoen? Oues en siekes en die weerloses word versaak en die regte van minderhede vertrap.
Dit word daagliks gesien waar provinsies maatskaplike toelaes nie betyds betaal nie, waar mense in hospitale sterf en waar kinders die voorreg ontneem word om in hul moedertaal onderrig te word.
Uitnemende jong wit studente mag nie studeer om dokters of verpleegsters te word nie bloot oor hul velkleur. Die huidige krisis met dokters en verpleegpersoneel is ‘n tragiese gevolg hiervan.
Die diversiteit in Suid-Afrika maak van hom ‘n wêreld in een land.
Gemeenskappe hoef nie gepolariseerd te wees soos tans die geval is nie, maar die regering en partye soos die EFF is gedurig besig om mure te bou tussen gemeenskappe.
Die realiteit hiervan is ‘n nuwe apartheid waar een bevoordeel word teenoor ’n ander.
Sommiges, soos die Afrikaner, kry die skuld vir alles wat verkeerd gaan terwyl dit in ‘n perfekte werkende toestand was voordat die ANC met sy vernietigingswerk begin het.
Soos Eskom, die SAL, en al die ander staatsentiteite wat vernietig en gesloop is deur onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie. Dit lei toenemend tot die ineenstorting van kritieke infrastruktuur.
Die ANC se aanslag teen minderhede word goed geïllustreer met die huidige naamstryd om die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM).
Dit wys dat die ANC-regering minderhede en in die besonder Afrikaanssprekendes nie ‘n eie identiteit gun, of verstaan wat “verskeidenheid” in die land se nasionale leuse van “Eenheid in Verskeidenheid” beteken nie.
Die regering moet diversiteit van die land se mense eerder as ‘n bate sien en aan elke groep sy plek in die son gun.
Wat nou Suid-Afrika gebeur, wil ‘n mens onwillekeurig laat vra: Is dit wat Mandela bedoel het toe hy gesê het: “Nooit, nooit, nooit weer nie…”?