Die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) se voorgestelde 2023/2024-begroting en aangepaste geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) se praktiese uitvoerbaarheid en die munisipaliteit se geskiedenis van gefaalde implementering en wanbestuur daarvan laat veel te wense oor.
Die munisipaliteit het hierdie week tydens ‘n spesiale raadsitting sy beplande finansiële begroting en aangepaste GOP ter tafel gelê.
Die VF Plus is gekant teen die aanbeveling dat munisipale tariewe met 5.9% op alle dienste verhoog gaan word. Dit sluit riool, vullisverwydering, water en eiendomsbelasting in.
Die vraag of inwoners ook ‘n gelykstaande verhoging in dienste sal ervaar, het egter onbeantwoord gebly.
Die burgemeester, me. Khethiwe Moeketsi, het beaam dat die munisipaliteit nie oor die befondsing beskik om probleme wat inwoners ervaar, vinniger op te los nie.
Daar gaan nou glo gepoog word om agterstallige skuld van nie-betalende inwoners in te vorder.
Me. Moeketsi se standpunt was dat daar streng by die finansiële plan gehou gaan word aangaande die verhaling van agterstallige skuld.
Die realiteit wys egter dat hierdie plan tot op hede geensins die invordering van munisipale skuld verbeter het nie.
Die skuldinvordering het inteendeel die afgelope ses maande verlaag tot minder as 50%.
Die VF Plus het reeds tydens vorige vergaderings voorstelle ingedien om hierdie kwessie te beredder.
Inwoners van Dipaleseng moet gebuk gaan onder die agteruitgaan van dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur.
Vervalle paaie, krag- en wateronderbrekings en gebrekkige vullisverwydering is aan die orde van die dag.
Die VF Plus kan dus nie die begroting goedkeur nie.
Inwoners word aangemoedig om saam met die VF Plus ʼn sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die verval van die munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.