fbpx
Vryheidsfront Plus

Gesoek: ʼn Plek waar Wolraad Woltemade en sy perd vir almal ʼn held kan wees

Wolraad Woltemade is ʼn universele held. Sy heldedaad 250 jaar gelede is groter as die 14 matrose wat hy uit die Tafelbaaise golwe gered het. Dit ken nie tyd, kleur of grense nie.

Dit is daarom jammer dat hierdie grootse held vir alle Suid-Afrikaners nie ʼn ereplek het waar almal aan hom kan hulde bring nie. Waar die beeld tans staan, voor die Old Mutual-gebou in Pinelands, is ʼn kleed van skaamte daarom gehang.

Old Mutual het ʼn versoek van die FAK geweier om vandag ʼn krans by die beeld te gaan lê ter ere van die eenvoudige melkboer wat sy lewe geoffer het vir sy medemens.

Volgens Old Mutual kon hulle die versoek van die FAK nie toestaan nie, onder meer omdat dié organisasie ʼn “diverse verskeidenheid kulture” verteenwoordig en daarom “bedag” is op hoe erfenis gevier moet word, beide in Suid-Afrika en regoor die groep.

Dit is vir die VF Plus jammer dat daar enigsins gekyk word na kleur in die kwessie, want dit is duidelik wat hier te sprake is. Woltemade het sonder twyfel nie in die donker nagtelike ure terwyl die storm gewoed het, eers gevra wat die kleur van die volgende persoon is wat hy gaan red nie.

Die VF Plus gaan hom daarom daarvoor beywer om ʼn standbeeld vir Wolraad Woltemade te laat oprig waar hy ʼn held vir alle Suid-Afrikaners kan wees. ʼn Plek waar elke Suid-Afrikaner deur Woltemade se onbaatsugtige liefde vir sy medemens aangevuur en geïnspireer kan word en waar almal aan hom kan hulde bring, ongeag hul velkleur.

Die party sal hom wend na al die betrokke owerhede, in die Wes-Kaap en nasionaal, maar doen ook ʼn beroep op elke Suid-Afrikaner om te help om Wolraad Woltemade ʼn plek te gee waar hy en sy perd Vonk ʼn inspirasie vir al die nageslagte kan wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.