Die VF Plus veroordeel ʼn tweede plaasmoord die afgelope week, dié keer op ʼn veewagter van Sasolburg, ten sterkste.
Die oorledene, Hlompo Patrick Phale, is gister vermoor en 98 skape is glo in die proses gesteel.
Vir hierdie genade- en gewetenlose veediewe is hul buit duidelik meer werd as ʼn menselewe en sy naasbestaandes se seer.
Hoeveel lewens moet verlore gaan voordat die ANC-regering besef dat plaasmoorde en -aanvalle nie ʼn sogenaamde “wit”-probleem is nie, maar ʼn probleem wat die ganse landbou-, en landelike gemeenskap van Suid-Afrika diep ruk en beïnvloed en voedselsekerheid bedreig?
Wanneer ʼn plaaswerker sterf, sterf bes moontlik ʼn huisgesin se enigste broodwinner en wanneer ʼn boer sterf, sterf ʼn werkgewer van wie ander huisgesinne afhanklik is vir hul inkomste. Dit vererger die bose kringloop van werkloosheid en armoede wat hoogty vier in Suid-Afrika.
Veediefstal in die Vrystaat is soos ʼn oorlog wat deur wrede veediefbendes teen die landbougemeenskap in die provinsie gevoer word. Talle boere en werkers, soos Brendin Horner, moes al met hul lewe in hierdie sinnelose stryd boet.
Die polisie in die Vrystaat behoort ʼn spesiale taakmag en aksieplan teen veediefstal in die lewe te roep wat deur plaaslike veiligheidsstrukture ondersteun word.
Die VF Plus druk jare reeds dat plaasmoorde en -aanvalle as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word omdat die impak daarvan so vernietigend is dat dit nie die teendeel kan regverdig nie.
Daar bestaan wesenlike bewyse dat daar ‘n afname in misdaad is waar gemeenskappe eienaarskap oor hul eie veiligheid neem.
Die VF Plus moedig gemeenskappe aan om veiligheidsnetwerke te vestig en, waar moontlik veiligheidstelsels soos slimkamera-toestelle, wat pro-aktiewe misdaadbekamping bevorder, te installeer.
Die polisie kan nie meer die landelike gemeenskappe van Suid-Afrika behoorlik beskerm en beveilig nie. Hulle moet dit self doen.