Die VF Plus het die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) se begroting vir die 2023/24-finansiële jaar verwerp.
Dit is duidelik dat die ANC meer belangstel in die roekelose besteding van openbare fondse as in behoorlike dienslewering.
Van die beplande tariefverhogings sluit onder meer ʼn 15%-verhoging vir water, 15,10% vir elektrisiteit, 10% vir vullisverwydering en 10% vir riool in.
Vullis word soms vir drie weke aaneen nie in Ventersburg verwyder nie. In ander gebiede hou die munisipaliteit nie by die vullisverwydering-skedule nie.
Dít terwyl die munisipaliteit in die huidige finansiële jaar R120 miljoen aan vlootvoertuie bestee het om dienslewering te verbeter.
Dit is skandalig vir ʼn munisipaliteit om sulke onrealistiese verhogings in te stel as daardie einste munisipaliteit misluk om basiese dienste, soos watervoorsiening aan sy inwoners te lewer.
Die munisipaliteit het vir jare geen instandhouding en infrastruktuurontwikkeling gedoen nie. Belastingbetalers moet nou opdok terwyl verhogings moontlik vir bedryfskapitaal aangewend gaan word en nie vir dienslewering nie.
Indien bestaande fondse nie weens korrupsie, bedrog en swak bestuur verlore gaan nie, sal die munisipaliteit oor genoeg fondse beskik om die nodige ontwikkeling en instandhouding te doen.
Dit is onregverdig om van inwoners te verwag om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie.
Die munisipaliteit se invorderingskoers vir munisipale rekeninge is ook kommerwekkend.
Tans dra slegs 10 van die 36 wyke in Matjhabeng by tot 75% van die munisipaliteit se inkomste.
Die poel van getroue belastingbetalers word al hoe kleiner terwyl die poel van nie-betalers al hoe groter word.
Die munisipaliteit sal daadwerklike stappe moet neem om sy invorderingskoers te verhoog en seker te maak dat munisipale fondse op munisipale infrastruktuur en projekte bestee word ten einde behoorlike dienste te kan lewer.
Inwoners van Matjhabeng verdien beter as die wanbestuur en korrupsie van die ANC.