Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Cholera-uitbreking in Musina: ANC kan letterlik nie sy hande in onskuld was

Verskeie waarskuwings van die VF Plus oor die erns van die waterkrisis in dorpe soos Musina en Louis Trichardt is geïgnoreer en die ANC-beheerde munisipaliteite kan letterlik nie nou hul hande in onskuld was nie. Daar is nie water om dit te doen nie.

Boonop het die provinsie nou sy eerste cholera-geval in Musina bevestig.

Dit wil voorkom asof die LUR vir gesondheid in Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, skynbaar onbewus is van die feit dat haar beroep op gemeenskappe om hande te was en skoon water te drink, eintlik ‘n klap in die gesig van elke belastingbetaler is.

Ramathuba moes eerder haar gewig agter die oplossing vir die voortslepende waterkrisis gegooi het aangesien dit nie net die gesondheid van gemeenskappe en inwoners raak nie, maar ook hospitale en klinieke.

Stappe wat die VF Plus tot dusver geneem het, sluit die volgende in:

• Die VF Plus het in Oktober 2022 ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, me. Tshimangadzo Ndou, asook Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Baisikopo Makamu, om dadelik ʼn aksieplan saam te stel om die waterkrisis op te los.
• Die VF Plus het die saak verwys na die party se parlementslid vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Michal Groenewald, om dit in die parlement se Cogta-komitee te hanteer.
• Die VF Plus het op 16 Februarie vanjaar die waterkrisis wat die inwoners van die Makhado-plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) ervaar asook die swak dienslewering van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, verwys na die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha, vir dringende optrede.
• Die VF Plus het ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien op 27 Maart teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit oor die voortslepende waterkrisis.
• Die VF Plus het op 28 Maart ʼn strafregtelike klag teen die uitvoerende burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, mnr. Nenguda Dowelani en die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. NC Tshikovha, by die polisie op Louis Trichardt ingedien.
• Die VF Plus het op 23 Mei ʼn dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, me. Tshimangadzo Ndou, om daadwerklik die riool- en waterkrisis in die gebied op te los.

Daar is duidelik net een werklike oplossing en dit is om van die ANC ontslae te raak in 2024.

Limpopo verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.