Suid-Afrika sal nie sy handelsmark, beleggings en ekonomiese groei volhoubaar kan herstel indien die land se plaaslike regering nie dringend herstel word nie.
Munisipaliteite moet ekonomiese enjins wees en nie remskoene nie.
Veral Gauteng, as die ekonomiese hartland van Suid-Afrika, kan nie sy volle ekonomiese potensiaal bereik terwyl munisipaliteite sukkel om basiese dienste soos water, elektrisiteit, paaie, sanitasie en afvalverwydering te lewer nie.
Vir ondernemings is swak plaaslike regering nie bloot ‘n administratiewe probleem nie, dit is ‘n direkte ekonomiese koste.
Wateronderbrekings staak produksie, vervalle paaie verhoog logistieke koste, swak afvalbestuur benadeel nywerheidsgebiede en munisipale wanbestuur ondermyn beleggersvertroue.
Die gevolg is minder produksie, minder belegging, minder werksgeleenthede en uiteindelik ‘n kleiner belastingbasis waarmee munisipaliteite weer hul dienste moet finansier. Só word ‘n bose kringloop van ekonomiese en munisipale verval geskep.
Die oplossing lê nie bloot in groter finansiële oordragte aan munisipaliteite nie. Geld sonder aanspreeklikheid sal nie ‘n gebroke stelsel herstel nie.
Munisipaliteite moet terugkeer na die kernbeginsels van bevoegde bestuur, finansiële dissipline, effektiewe inkomste-invordering, deursigtige verkryging, gereelde infrastruktuuronderhoud en gevolge vir wanbestuur en nie-prestasie.
Daar moet ook groter ruimte wees vir privaatsektor-deelname waar munisipaliteite nie oor die nodige vermoë beskik nie.
Die VF Plus glo die 4 November 2026-plaaslike regeringsverkiesing moet daarom oor veel meer as dienslewering gaan. Dit moet oor ekonomiese herstel gaan.
Ons het munisipaliteite nodig wat ondernemings in staat stel om te groei, beleggers te lok en werk skep, nie munisipaliteite wat ekonomiese groei verhinder nie.
Herstel plaaslike regering en ons lê die grondslag vir die herstel van Suid-Afrika se ekonomie.
Die VF Plus sal ‘n stabiliserende rol hierin speel om met sy unieke waardestelsel plaaslike regering en die ekonomie in Suid Afrika weer op die wenpad te plaas.


