Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die polisie en George se munisipale wetstoepassingsdienste om sigbaarheid en patrollies by die Tuinroetedam onmiddellik te verhoog.
Die dam is ’n gewilde ontspanningsgebied waar inwoners en besoekers stap, draf en fietsry. Die jongste voorval, waarin ’n 22-jarige vrou van agter genader en om die nek gegryp is terwyl sy alleen na haar voertuig gestap het, beklemtoon die ernstige veiligheidsrisiko’s in die gebied.
Verskeie voorvalle die afgelope tyd toon dat die huidige sigbaarheid onvoldoende is. Die VF Plus versoek dat patrollies by die dam en omliggende roetes verhoog word en dat alle voorvalle deurlopend aangemeld word sodat misdaadpatrone geïdentifiseer en aangespreek kan word.
Die oplossing kan egter nie wees dat mense uit vrees wegbly van die dam nie. Wanneer inwoners openbare ruimtes vermy, word dit juis makliker vir misdadigers om dit oor te neem.
Besoekers word eerder aangemoedig om verantwoordelik op te tree, waar moontlik in groepe te beweeg en waaksaam te bly.
Toerisme is ’n belangrike steunpilaar van George se ekonomie en ondersteun talle ondernemings en werksgeleenthede.
Die dorp kan nie bekostig dat ’n waardevolle toerisme- en ontspanningsgebied ’n reputasie van onveiligheid ontwikkel nie.
Die VF Plus vra dat alle rolspelers saamwerk om die Tuinroetedam veiliger te maak sodat inwoners en besoekers dit met groter gemoedsrus kan geniet.


