Die departement van sport, kuns en kultuur se taak van nasiebou word deur sy eie leierskap omvergewerp deur sondebokpolitiek en die aanblaas van rassisme deur leiers wat in plaas daarvan om probleme aan te spreek en korrekte prioritisering, eerder witmense en apartheid blameer vir hulle eie onbevoegdheid.
Die departement is van kardinale belang vir ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike opheffing, nasiebou en die uitbou en ontwikkeling van taal in die provinsie, het Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, gedurende ‘n debat oor die departement se begroting gesê.
Wessels het verwys na die provinsiale taalwet wat onlangs deur die Wetgewer aanvaar is. Die VF Plus het teen hierdie Wet gestem, omdat dit op alle vlakke van interpretasie, toepassing en uitvoering gebrekkig van aard is.
Wessels het gesê hoewel die Wet in alle opsigte tekort skiet, is dit nou aanvaar en val die onus op die departement om toe te sien tot die doeltreffende implementering daarvan, ten einde die verskillende tale van die mense van die Vrystaat te ontwikkel, uit te bou en te voldoen aan die grondwetlike vereistes vir taalgebruik en –toegang vir almal.
“Biblioteke is net so belangrik en behoort geprioritiseer te word. Vir die ANC-regering om biblioteke te verwaarloos is ‘n skending van ons demokrasie. Standbeelde behoort nie ‘n prioriteit te wees nie. Hoeveel boeke kan gekoop word met die geld wat gebruik is om twee meter standbeelde van Oliver Tambo en Fidel Castro op te rig?” het Wessels gevra.
Wessels het verwys na die resolusie wat deur die Vrystaatse Wetgewer aanvaar is dat die Macufe-musiekfees selfonderhoudend moet word deur borgskappe en kommersialisering. Macufe is ‘n welkome inspuiting van fondse vir die Mangaung-munisipaliteit, maar dit is nie veronderstel om meer te kos as die werklike fondse wat daardeur gegenereer word nie en moet selfonderhoudend wees.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315