Die departement van landbou hou hom besig met lippetaal en skenk nie genoegsame aandag aan Suid-Afrika se huidige en toekomstige voedselsekuriteit nie.
Die departement versuim om daadwerklike druk toe te pas en om toe te sien dat droogtehulp aan kommersiële boere gebied word. Suid-Afrika is op 4 Maart 2020 as ‘n amptelike droogterampgebied geklassifiseer en sedertdien het beloftes ten opsigte van ‘n plan oor ‘n finansiele inspuiting en hulp aan boere nog nie gerealiseer nie.
Die effek van droogte op Suid-Afrika het nie verdwyn met die aankoms van die Covid-19-pandemie nie. Die probleme wat geheers het voor die uitbreking van die virus behoort te midde van die grendelstaat steeds prioriteit te geniet.
Alhoewel sekere landbouaktiwiteite as noodsaaklike dienste- en goedere geklassifiseer is, beïnvloed Covid-19 die ekonomie, sowel as die voedselwaardeketting op ‘n negatiewe wyse. Dit het veral ‘n enorme impak op kommersiële boerdery veroorsaak. Die department se pogings om slegs bestaansboere en kleinskaalboere in hierdie tyd te ondersteun dra nie by tot voedselsekuriteit nie.
Die regering behoort ook boere by te staan wat beïnvloed is deur die regering se eie uitsluiting tydens die grendelstaat. Talle boere kon nie met normale produksie voortgaan nie, omdat hul nie as noodsaaklike dienste- of goedere deur die regering geklassifiseer is nie. Afdelings binne die landbousektor wat ekonomies uitgesluit is tydens die grendelstaat-tydperk, soos die wol-, wyn- en byeboerbedryf, verdien ook regeringshulp.
Die regering skenk verder te veel aandag aan die wintergewasproduksie, maar maak nie voorsiening vir die somermaande se gewasproduksie nie. Die regering moet versigtig wees om nie slegs kortsigtige oplossings te soek vir probleme in die landbousektor wat as gevolg van die virus veroorsaak is nie. Daar moet nou al pro-aktief voorsiening gemaak word vir toekomstige seisoene.
Die regering kan nie ernstig wees as hy sê dat hy besorgd is oor voedselsekuriteit as hy kommersiële boere soos die stiefkinders van die landboubedryf hanteer nie.
Die department van landbou sal spoedig van beleidsrigting moet verander om nie net op bestaansboere te fokus nie, maar op kommersiële boere as die dryfveer van die ekonomie en die voedselwaardeketting binne in Suid-Afrika.
Kontaknommer: 082 490 6663