Die VF Plus is skepties oor die ANC-regering se jongste poging om grootskaalse uitgawes te sentraliseer. Dit volg op die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, se aankondiging dat infrastruktuurontwikkeling, veral vir die huisvesting van studente, gesentraliseer gaan word. Tans word bouwerk deur verskillende afdelings van die departement of deur universiteite gedoen, maar hy wil 'n ministeriële advieskomitee skep, wat korrupsie en algemene wanprestasie op hierdie terrein sal bestry.
Met oorsigverslae, asook terreinbesoeke, het die portefeuljekomitee kennis geneem dat werksaamhede op verskeie kampusse gerem word deur bouwerk wat nie klaarkom nie, of wat van swak gehalte is. In meer as een geval is projekte deur bouaannemers verlaat, sonder dat hulle die werk waarvoor hulle betaal is, afgehandel het. Dit is inderdaad 'n ernstige probleem.
Aan die ander kant is daar instellings met 'n baanrekord van bouwerk wat binne die tydsraamwerk en begroting voltooi word. Dit sal irrasioneel wees om sulke instellings van hierdie bevoegdheid te ontneem, omdat daar ander is wat dit nie kan uitvoer nie. Indien wanprestasie op hierdie gesentraliseerde vlak sou voorkom, is dit nie enkele instellings wat daaronder ly nie, maar die hele naskoolse onderwyssektor.
In die algemeen is die VF Plus ten gunste van 'n beleid van subsdiariteit, met ander woorde, die uitoefening van bevoegdhede op die laagste moontlik vlak. Die opwenteling van gesag skep daarom altyd agterdog by die VF Plus, te meer teen die agtergrond van staatsdepartemente en -ondernemings wat nie vir uitmuntende finansiële bestuur bekend staan nie.
Kontaknommer: 074 166 5540