As gevolg van Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se skuld aan Randwater, is die waterdruk in die gebied verlaag tot 40%, sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid vir Emfuleni.
Senekal sê uitbreidings CW1 tot CW6 was boonop vanaf 1 tot 3 September vanjaar sonder enige water. Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het die inwoners nie vooraf gewaarsku nie en het ook nagelaat om enige kennisgewings uit te stuur. Die inwoners was dus heeltemal onvoorbereid op die wateronderbreking.
Volgens Senekal is daar tydens ‘n ondersoek ter plaatse gevind dat die elektrisiteit by die pompe afgeskakel is deur ‘n onbekende persoon of persone. Die watertorings in CW4 het dus leeggeloop en groot dele was sonder water.
Hierdie aangeleentheid kan te wyte wees aan swak beplanning of sabotasie en word ondersoek.
“Van die inwoners het my gekontak en ek het die probleem aangemeld by die munisipaliteit se elektriese departement. Met die hulp van Randwater is die kragtoevoer weer aangeskakel en het die water weer in die tenks begin vloei.
“Sekere dele het egter tot Maandag 4 September nog geen water gehad nie. Die probleem word vererger deurdat werkers van die elektriese departement se oortydbetaling ingekort is weens die swak finansiële posisie van die munisipaliteit.
“Ouetehuise en ‘n hospice in die gebied was erg verontrief. Betalende inwoners se grondwetlike reg van toegang tot water is in die proses van hulle ontneem.
“Die VF Plus het reeds die burgemeester, mnr. Simon Mofokeng, gekontak en eis ‘n verduideliking oor die aangeleentheid,” sê Senekal.
Kontaknommer: 076 616 2124
Gertruidasenekal1@gmail.com; emfuleni@vfplus.org.za