Die ANC-lyfwag in KwaZulu/Natal wat met geweld dreig op ’n omstrede video wat op sosiale netwerke versprei word, moet in hegtenis geneem word vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die feit dat die lyfwag ’n AK47 (outomatiese aanvalsgeweer) vertoon het, is genoeg rede vir sy inhegtenisneming aangesien private persone nie gelisensieer kan word om AK47 te besit nie.
Hy sê indien dit die ANC as organisasie se wapen is, moet die ANC verduidelik hoe hy in besit kan wees van ‘n aanvalsgeweer soos ‘n AK47.
“Ek sal die saak in die parlement opvolg en sal die polisie versoek om ‘n ondersoek te doen oor aan wie hierdie wapen behoort aangesien onwettige vuurwapens ‘n groot krisis in Suid-Afrika is wat misdaad bevorder.
“Gewapende aanvalle het tans ‘n verlammende invloed op die politieke situasie in KwaZulu/Natal en die ANC moet verduidelik hoe sy lyfwagte in besit van wapen soos hierdie kon kom,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216