Die wanbestuur van die ANC-regering in Mpumalanga word gesien in die haglike toestand van sy munisipaliteite.
Dit sluit in lewensgevaarlike paaie, swak gesondheidsorg, werkloosheid, die effek van beurtkrag op dienslewering en die rioolbesoedeling van waterbronne wat verreikende gesondheids- en omgewingsgevare inhou.
Die waarheid is dat die ANC nooit geskik was om die kompleksiteit van wat eens een van die land se suksesvolste provinsies was, te bestuur nie.
Dit is tyd dat premier Refilwe Mtshweni-Tsipane ʼn spieël ophou om te besef wat haar nalatenskap sal wees in die provinsie.
Mpumalanga ‘spog’ met ʼn lang lys onvoltooide projekte, openbare dienste het verdwyn, misdadige elemente het die sekerheids- en strafregstelsel binnegedring en openbare gesondheid- en onderwysstelsels het ineengestort.
Sogenaamde spogprojekte wat sedert 2011 sloer en nog steeds nie voltooi is nie sluit in:
• Die prestasiesentrum wat reeds sowat R200 miljoen kos;
• ‘n Kulturele kern wat reeds sowat R200 miljoen kos;
• ‘n Varsproduktemark van sowat R1,915 miljard;
• Die Nkomazi-spesiale-ekonomiese-sone van sowat R65 miljoen;
• Mpumalanga se personeeldorp van sowat R600 miljoen, en
• Tekwane-Suid-brug van sowat R40 miljoen.
Al die bogenoemde projekte het ook by verre die voorgeskrewe begroting vir elk oorskry.
Die provinsie het beter paaie, hospitale, skole en infrastruktuur nodig vir beter dienste.
Beter en meer staatsgeboue is nodig. Daar kan nie toegelaat word dat die korruptes voortgaan om miljarde wat vir infrastruktuur bedoel is, te steel nie.
Niemand kan toegelaat word om voort te gaan om vooruitgang te steel en te smoor ten koste van die mees kwesbares in die land nie.
Me. Mtshweni-Tsipane moet die stand van finansiële bestuur en swak dienslewering in die provinsie se munisipaliteite aanspreek en dringend uitvoerbare planne op die tafel lê.
Kundige amptenare moet aangestel word en behoorlike prestasie-evaluering van hierdie amptenare moet plaasvind.
Die provinsie se paaie is steeds in ʼn jammerlike toestand wat nie net tot lewensverlies lei nie, maar ook ʼn reuse impak op die provinsie se plaaslike ekonomie het.
Wat die stand van die provinsiale departement van gesondheid aanbetref, is daar te veel direkteure en senior bestuurders wat reuse salarisse verdien.
Dit terwyl daar ʼn tekort aan spesialiste soos ortopede en ander bekwame mediese personeel is.
Die premier moes eerder aangedui het hoe sy die jare lange swak instandhouding van klinieke en hospitale gaan omkeer. Staatspasiënte moet in haglike omstandighede met min tot geen hulpbronne behandel word en dit kan nie langer toegelaat word nie.
Die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) plaas jare reeds druk op die provinsie se fiskus.
Rasbehepte beleidsrigtings soos SEB en regstellende aksie (RA) is net ʼn front om sekere ANC-kaders ryker te maak met die finansies wat benodig word vir werkskepping.
Die premier is by magte om dringende stappe te neem om die provinsie minder afhanklik van die nasionale netwerk te maak. Dit moet geprioritiseer word
Die ANC-regering het egter herhaaldelik gewys dat hy nie daartoe in staat is nie.
Die mense van Mpumalanga verdien beter as die ANC.