Randwater het vir die tweede keer vanjaar die waterdruk na die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) verminder.
Sekere gebiede in Merafong is reeds vir vyf dae sonder water weens die verminderde waterdruk.
Randwater het die waterdruk verder verlaag nadat Merafong die sperdatum van 29 Februarie verontagsaam het om ʼn bedrag van R45 miljoen aan die waterverskaffer oor te betaal.
Merafong skuld Randwater tans R856 298 900 waarvan R801 013 130 agterstallig is.
Intussen het die eerste skool, Laerskool Welverdiend, leerders gister huis toe gestuur omdat die woonbuurt sonder water is.
Twee skole het aan die begin van Februarie ook hul leerders vir ʼn paar dae huis toe gestuur omdat die skole waterloos is.
Die VF Plus het die LUR vir finansies in Gauteng, Jacob Mamabolo, gevra om in te gryp. Hy het die party verseker dat hy besig is om met die nasionale tesourie en Randwater te onderhandel.
Die party het ook daarop aangedring dat die munisipale bestuurder mnr. Dumisani Mabuza asook die burgemeester Nozuko Best moet bedank weens hul onvermoë om die munisipaliteit te bestuur.
Die party het die munisipale bestuur meer as ʼn jaar gelede gewaarsku dat ernstige maatreëls ingestel moet word om die maandelikse invorderingskoers te vermeerder.
Tans is die invorderingskoers minder as 50% vir dienste gelewer.
Die VF Plus is daarvan oortuig dat indien die situasie voortduur, dit nie lank gaan wees totdat Eskom Randwater se voorbeeld volg en Merafong in die donker gaan laat nie.