Die munisipale afbakeningsraad het die gemeenskap van Drie Riviere in Vereeniging se aansoek om ingelyf te word by die Midvaal-plaaslike munisipaliteit, vandeesweek afgekeur.
Die inwoners van die gegoede buurte Drie Riviere, Drie Riviere-Oos en Kliplatdrift, het die afbakeningsraad twee jaar gelede versoek om die munisipale grense aan te pas ten einde hulle van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit na Midvaal te verskuif.
Inwoners was ongelukkig met die dienslewering wat hulle van Emfuleni ontvang synde dié gemeenskappe tussen R40 miljoen en R41 miljoen in erfbelasting vir Emfuleni inbring.
Die aansoek van dié woonbuurte om van die vervalle Emfuleni na Midvaal verskuif te word, onderstreep weereens die VF Plus se standpunt dat munisipaliteite kleiner gemaak moet word om plaaslike regering nader aan inwoners te bring.
Dit sal hulle die geleentheid bied om insae te hê in hoe hul swaarverdiende belastinggeld aangewend word tot voordeel van die gemeenskappe wat in daardie munisipaliteit val.
Die VF Plus het reeds voor die afbakeningsraad besluit het om Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging saam te smelt, om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit te vorm, sy misnoeë daarmee uitgespreek.
Die party se waarskuwing dat dienslewering nie gaan verbeter nie maar versleg, het op dowe ore geval.
Die realiteit is nou dat gemeenskappe probeer om met mag en mening Emfuleni te verlaat vanweë sy finansiële posisie wat so swak is dat dienslewering bykans nie bestaan nie.
Die enigste oplossing vir inwoners is om met die komende verkiesing van die ANC-regering in Gauteng ontslae te raak en te vervang met ʼn koalisieregering wat hul beste belange op die hart dra.
Die VF Plus sal ʼn integrale deel vorm van so koalisieregering.