Die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, kry jaarliks met die provinsiale rede die geleentheid om op sy regering se prestasies van die afgelope jaar terug te kyk en aan die hand daarvan vooruit te beplan. Tog leer hy nie uit sy foute nie.
Tussen al sy uitsprake oor beter onderwys en gesondheidsorg, duur die Sol Plaatje se waterkrisis voort.
Alhoewel waterverskaffing ʼn munisipale funksie is, voorsien die premier dat die provinsiale regering oor die mediumtermyn R200 miljoen sal moet opdok om dié krisis te help oplos. Indien Sol Plaatje waterinfrastruktuur ordentlik onderhou het, sou dit nie nodig gewees vir die provinsiale regering om in te gryp nie.
Sol Plaatje kan gerus by Orania kers opsteek oor hoe om sy waterkrisis op te los.
Dié dorp het ʼn dubbele waterstelsel, wat ongesuiwerde water vir tuine voorsien en gesuiwerde water slegs vir huishoudelike gebruik.
Om gesuiwerde water in tuine uit te spuit, is ʼn vermorsing.
Wat onderwys en gesondheid betref, kan die premier nie net op die enkele suksesse fokus en die ernstige probleme ignoreer nie.
Die verhoogde gemiddelde lewensverwagting in die provinsie help min vir iemand wat in die Harry Surtie-hospitaal van hitte vergaan.
Ten spyte van verbeterde matriekuitslae, bly die Noord-Kaap die provinsie met die swakste prestasie in die land – dit nadat die provinsie sy bestaan in 1994 begin het met die hoogste slaagsyfer in die land.
Dit is verstaanbaar dat die premier trots voel op twee miljoen hektaar se grondhervorming. Hy gee egter geen besonderhede oor waar die grond is, wat die potensiaal daarvan is en of dit steeds in produksie is nie. Grond wat uit produksie onttrek word, kan kospryse opjaag en maatskaplike onrus vererger.
Die regruk van die Noord-Kaapse munisipaliteite is nog ʼn belofte wat telkens herhaal word, sonder dat sake verbeter.
Provinsiale wetgewerlede is openbare verteenwoordigers wat in diens van die kiesers staan. Toe hierdie administrasie byna vyf jaar gelede begin het, is daar ooreengekom om ten bate van die provinsie se inwoners saam te werk.
Eindelik hang die sukses, of die gebrek daaraan, van die regerende party af, terwyl die res hoofsaaklik foute uitwys.
Dit raak tyd vir ʼn nuwe regering in die Noord-Kaap.