Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Son sak oor ANC in Gauteng met voorlegging van futlose laaste provinsiale begroting voor 2024-verkiesing

Dit is duidelik dat die son besig is om te sak vir die ANC se heerskappy in Gauteng met die LUR van finansies, Jacob Mamabolo, se voorlegging van ʼn power laaste begroting voor die 2024-verkiesing.

Die VF Plus glo dit sal die laaste provinsiale begroting wees wat die ANC in Gauteng voorlê.

Die ANC gaan so swak in die komende verkiesing vaar as met die futlose begroting wat hy op die kiesers van Gauteng wil afdwing.

Die begroting bestaan weereens uit die vermorsing van fondse op verkeerde beleidsinisiatiewe wat die provinsie net armer gaan maak.

Daarby kan die ANC-regering nie eens sy bestaande departementele begrotings bestee nie, soos getuig met die onderbesteding deur talle departemente die afgelope jaar.

Mamabolo het dit self in sy toespraak uitgewys as ʼn “kommerwekkende tendens.”

Die ANC-regering maak weereens staat in sy begroting op die vermoë van die staat om werk te skep deur die aanstelling van talle werklose mense in onvolhoubare provinsiale staatsdiensposte. Regeringskontrakte word ook gekanaliseer na duisende township-ondernemings.

Die fout wat die ANC egter maak is sy ideologiese oortuiging dat die staat werk kan skep eerder as om te besef dat die staat bloot ‘n gunstige omgewing kan skep vir die groei van nuwe ondernemings in die privaatsektor.

Die ANC-regering faal grootliks om ʼn besigheids-vriendelike omgewing te skep om nuwe beleggings na Gauteng te lok.

In stede daarvan om ekonomiese groei te gebruik as hefboom om die talle sosio-ekonomiese probleme soos misdaad aan te spreek, word heelwat befondsing geoormerk vir die aanstel van duisende swak opgeleide vredesbeamptes, helikopters, hommeltuie, sekuriteitskameras en noodknoppies wat Gauteng in ʼn tipe polisiestaat omskep en vryheid kan ondermyn.

Daar bestaan veral vrese oor die aard van die provinsiale vredesbeamptes aangesien hulle tans deur die weermag opgelei word wat nie polisiëringsfunksies het nie.

Dit is ook kommerwekkend dat die begroting van die departement van maatskaplike dienste met 3% gesny word terwyl die nood onder gemeenskappe groot is weens die hoë werkloosheidskoers in Gauteng.

Die ANC-regering dink dat hy besparings kan skep deur maatskaplike dienste te sentraliseer onder die departement, maar dit is juis dié departement se onbeholpenheid wat gelei het tot die Life Esidimeni-skandaal wat steeds by mense spook.

Die ANC sal moet leer dat professionele gemeenskapsorganisasies ʼn belangrike rol speel om maatskaplike dienste te lewer en verdien ondersteuning eerder as ʼn koue skouer.

Benewens die feit dat die begroting die kar voor die perde inspan op soveel maniere, het die Gautengse ANC-regering besluit om finansiering te reël om die 30% e-tolskuld van Sanral te delg.

Die ANC maak dus nog skuld in ʼn tyd waar die provinsiale regering nie eens begrotings ten volle kan bestee nie.

Fondse word geoormerk vir programme wat nie volhoubare werk kan skep nie en ʼn provinsiale weermag word opgebou vir polisiëring wat die polisie moet verrig.

Hierdie begroting is duidelik opgestel om op ʼn opportunistiese wyse deel van die ANC se verkiesingsstrategie te vorm, maar weens die gebrek aan ʼn samehangende ekonomiese plan gaan dit die ANC nie red nie.

Dié begroting is net nog ʼn bewys dat die son besig is om te sak oor die ANC in Gauteng en dat ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel sal wees, ná die verkiesing sal opstaan om Gauteng te red.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.