Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van informele nedersettings in Mpumalanga, wat munisipale dienste eis, hulle tot protesaksie as eerste opsie wend.
Hulle moet eerder met die onderskeie munisipale rade of ANC-leierskap skakel sodat oplossings vir hul probleme en frustrasies gevind kan word.
Inwoners van verskeie informele nedersettings in die Mbombela-, Bosbokrand- en Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteite het sedert die begin van 2024 erge ontwrigtings op die hoofroetes in die provinsie veroorsaak.
Dit is gedoen deur die paaie met brandende bande en ander voorwerpe te versper.
Vanoggend is die R37-pad tussen Lydenburg en Mbombela vir etlike ure deur betogers toegemaak.
Hierdie roetes was vir etlike ure onrybaar en motoriste is gedwing om alternatiewe roetes te vind om by die werk te kom.
Hierdie betogers eis munisipale dienste soos elektrisiteit, water en sanitasie.
Dit is noodsaaklik dat die leiers van hierdie rolspelers uitgenooi word om aan konstruktiewe gesprekke deel te neem om hul griewe aan te spreek en ‘n oplossing te vind.
Die doel daarvan sal wees om enige verdere protesaksies, wat ongerief sowel as skade aan eiendom en die ekonomie veroorsaak, te voorkom.
Die VF Plus is verbind tot behoorlike dienslewering. Die VF Plus is ook verbind tot die bou van nuwe infrastruktuur en die lewering van dienste asook die instandhouding van bestaande infrastruktuur.
Dit moet gebeur sonder om dienslewering aan lojale belastingbetalers te ontwrig en slegs wanneer inwoners van informele nedersettings bereid is om vir hierdie dienste te betaal.