Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Data vanuit Orania kan help om die impak van Kaapstad se energieplan te voorspel

Data vanuit Orania kan help om die impak van Kaapstad se energieplan te voorspel.

Die Stad Kaapstad se plan om dit vir gewone verbruikers makliker te maak om oortollige sonkrag aan die munisipaliteit te verkoop, trek heelwat aandag. Die vraag watter impak dit kan hê, kan gedeeltelik vanuit Orania bepaal word.

Dié Noord-Kaapse dorp koop al sedert 2019 krag by huishoudings en ondernemings. Al meer verbruikers het uit hul eie sonstelsels op dakke aangebring. Die dorpsraad het besluit om dit so maklik moontlik te maak om as produserende kragverbruiker te registreer en om 'n aantreklike bedrag per eenheid te betaal – tans is dit R1.51 per kW/h.

Die gevolg is dat talle huishoudings en ondernemings wat na sonkrag oorskakel, hul koppeling met die dorp se netwerk behou. 'n Sonplaas met die uitsluitlike doel om krag aan die dorp te voorsien, is ook 'n gevolg hiervan.

Daar is wel huishoudings wat die netwerk verlaat, of nooit daaraan koppel nie. Dan is daar ook diegene wat stelsels installeer, maar nalaat om vir die terugkoopooreenkoms te registreer. Dit beteken dat daar opwekkingsvermoë is wat nie in formele berekenings gebruik kan word nie.

Onsekerhede buite rekening gelaat, het Orania binne vier jaar die punt bereik waar 33% van alle krag wat gebruik word, deur inwoners self opgewek word. Die gevolge daarvan is verreikend:

Belegging in opwekkingsvermoë word tradisioneel deur Eskom gedoen. Dit word deur 'n heffing van munisipaliteite verhaal, wat in hierdie geval bespaar word.

Boonop is die maandelikse elektrisiteitsverbruiksrekening van die grootste lekkasies uit plaaslike ekonomieë. Om 'n derde daarvan te hersirkuleer, kom neer op 'n aansienlike belegging in die plaaslike ekonomie, sonder bykomende koste.

Laastens bestaan die moontlikheid om deur bergingsvermoë by te voeg, die dorp van beurtkrag vry te stel. Huishoudings en ondernemings wat dit reeds doen, hoef hierdie kenmerk van die lewe in Suid-Afrika nie meer in ag te neem nie. Om tydens beurtkrag krag aan die netwerk te lewer, kan ‘n meer aantreklike tarief regverdig wat weer belegging stimuleer.

Hierdie is 'n voorbeeld van 'n gemeenskap wat eerstens in sy eie ekonomie belê en daardeur inligting kan verskaf aan plaaslike owerhede wat stadiger beweeg..

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.