Die afgelope drie maande se ongewone reënval in die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit het die boeregemeenskap van Jasper genoop om hande te vat om ‘n belangrike pad in dié omgewing te herstel.
Sedert Desember 2022 is die grondpad (D1324) vanaf die R101 van Mookgopong (Naboomspruit) na Modimolle (Nylstroom) via die Jasperpad verby Kranskop onbegaanbaar weens hewig reën, verspoelings en vol riviere.
Die feit dat trokke die pad gebruik om ‘n rit deur die dorp te omseil, het grootliks daartoe bygedra.
Boere, onder leiding van mnr. Neels Smit en die VF Plus het besluit om self iets aan die saak te doen.
Smit gebruik sy eie trekker, masjinerie en arbeid terwyl ander boere brandstof bydra om die projek te laat vlot.
Die VF Plus het ook die amptenary van die munisipaliteit se departement van openbare werke (paaie-afdeling) genooi om die projek te besoek.
Tydens die oorsigbesoek op 14 Februarie het die amptenare hul aanbevelings gedeel:
1. Boere sal tydelik gehelp word om die padoppervlak rybaar te maak. Masjinerie sal verskaf word en borde sal aangebring word om swaarvoertuig-verkeer op die pad te keer.
2. Die pad sal heeltemal herbou word buite die reënseisoen met pype wat onderdeur die pad loop om die vloei van water te reguleer.
Hierdie inisiatief van boere, die gemeenskap en die VF Plus, wys dat mens nie altyd net moet kritiseer nie, maar self moet inspring om ‘n verandering mee te bring.