Inwoners van Roodepoort moet behalwe vir gewone beurtkragskedules ook probeer oorleef met ongeskeduleerde kragonderbrekings.
Net oor die afgelope naweek is verskeie kragprobleme waaronder kabelfoute, ‘n stukkende transformator en kragfoute waarvan die oorsprong nog nie bepaal kon word nie, regoor Roodepoort aangemeld.
Die Johannesburgse metro sal miljarde rand moet bestee om die 25 jaar van die ANC se gebrekkige onderhoud uit te wis.
Tydens die regering van veelparty-koalisie die afgelope vyf jaar, is daar geraap en skraap om die kragnetwerk se begroting aan die gang te hou.
Daar was ongelukkig nie genoeg fondse beskikbaar na die ANC se jarelange wanbestuur om die agterstand in die onderhoud van kraginfrastruktuur in te haal nie.
Dit is duidelik dat die metro-model, soos in die geval van Johannesburg, veroorsaak dat belastingbetalers se geld in ander gebiede bestee word as waar dit ingevorder word.
Dit is hoog tyd dat daar terugbeweeg word na ‘n situasie waar Roodepoort, Randburg en Sandton elk ‘n onafhanklike munisipaliteit het.
Die VF Plus was nog altyd ‘n voorstander van kleiner munisipaliteite nader aan die inwoners en dat belasting wat geïn word, aangewend word tot voordeel van daardie inwoners.


