fbpx
Vryheidsfront Plus

Daadwerklike optrede begin in VSA om met wetgewing sy rug op Suid-Afrika te keer weens ANC-regering se ‘vyandige’ optrede

Die rooi ligte flikker nie meer net oor Suid-Afrika se antagonistiese verhouding en uittartende houding teenoor die Weste en Amerika in die besonder nie. Dit brand helder rooi.

Daadwerklike pogings is hierdie week in Amerika begin met ʼn wetsontwerp in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers wat vra vir ‘n volledige hersiening van die bilaterale betrekkinge tussen Amerika en Suid-Afrika. (Wetsonterp hierby aangeheg).

Die erns van die saak word beklemtoon deur die feit dat die wetgewing ingedien is deur beide ʼn Republikein, mnr. John James, asook ʼn demokraat, mnr. Jared Moskowitz.

Die laaste strooi was ongetwyfeld toe die Suid-Afrikaanse regering in ʼn bykanse beswyming van hubrisme hom na die Wêreldhof gewend het om Israel te dwing om sy vergeldingsoptrede teen Hamas te staak.

Die ANC het sy optrede probeer klee in ʼn onskuldige kleed van humanisme en van die ridder wat tot die reddding van die onderdruktes snel.

Die waarheid is egter dat die ANC in sy hart en niere steeds die DNS van ʼn bevrydingsorganisasie met hom saamdra en daarom aanklank vind by ʼn groep soos Hamas en vriende soos Iran en feitlik almal wat in vyandskap met die Weste en Amerika staan.

Hy gee hom voor as getroue dienaar van die internasionale reg wat hy in die onlangse verlede sonder skroom vertrap het.

Amerika sien dit ook duidelik vir wat dit is: ʼn Omarming van alles en almal wat terreur en onderdrukking, ook van hul eie mense, aanhang.

Mnr. James het vandeesweek ʼn mediaverklaring uitgereik nadat die wetsontwerp ingedien is. John James Introduces U.S.-South Africa Bilateral Relations Review Act | Congressman John James (house.gov)

Daarin maak hy dit duidelik dat die wetgewing ʼn “volledige hersiening” van die bilaterale verhouding tussen Amerika en Suid-Afrika vereis gegewe Suid-Afrika se “posisionering en koördinering met Amerika se teëstanders”.

Mnr. James, ʼn swart Amerikaanse oorlogsveteraan van onder meer die oorlog teen Irak, sê onder meer in die verklaring:

“Ek is trots om saam met my Demokratiese kollega Jared Moskowitz die Wet op die Hersiening van Bilaterale Betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika in die Huis te lei.

“Suid-Afrika bou bande met lande en rolspelers wat Amerika se nasionale veiligheid ondermyn en ons lewenswyse bedreig deur sy militêre en politieke samewerking met China en Rusland en sy ondersteuning van die groep Hamas wat deur die VSA as ʼn terreurorganisasie beskou word.

“Suid-Afrika se regering stel Amerika laaste wat sy betrekkinge aanbetref en wend hom na diktators en despote in Beijing en Moskou vir kritieke behoeftes soos energie.

“Om Amerika se energiesekuriteit en nasionale veiligheid te verseker, moet ons ons alliansies ondersoek en ons losmaak van diegene wat bereid is om met ons teëstanders saam te werk.”

Die Westerse wêreld het Suid-Afrika lank met ʼn sterk mate van vergewensgesinde broederskap behandel, grootliks gegrond op die charismatiese invloed van Nelson Mandela.

Die ANC het hierdie goeie gesindheid stukkie vir stukkie afgebreek met sy optrede en sy onlosmaaklike vaskleef aan ideologie waarmee die Weste hom nie kan versoen nie.

Die eiers wat die ANC oor dertig jaar gelê het, het uitgebroei. En die kuikens is nie vir almal ewe oulik nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.