Die VF Plus verwelkom die opening van ʼn tweede brandweerstasie op Robertson die afgelope week.
Die klein brandweerstasie was eenvoudig nie in staat om al die uitdagings in die Langeberg-plaaslike munisipaliteit (Ashton, Bonnievale, McGregor, Montagu, Robertson) te hanteer nie.
Veldbrande breek gereeld uit in die Langeberg-gebied en daar was ʼn dringende behoefte aan ʼn volwaardige brandweerstasie.
Die nuwe brandweerstasie kan nou die hele streek op ʼn effektiewe en gesentraliseerde wyse bedien om die brandbestrydingsbehoeftes van die gemeenskap aan te spreek en om noodsituasies soos motorongelukke op die R60 te hanteer.
Die VF Plus, as deel van die koalisieregering, stel die veiligheid en welsyn van Langeberg se inwoners voorop en beskou die opening van die nuwe brandweerstasie as ʼn mylpaal in die voortdurende strewe na ʼn beter toekoms vir almal.