fbpx
Vryheidsfront Plus

OG-verslag ontbloot Ramaphosa se dagdrome oor munisipaliteite

Inligting vervat in ʼn verslag van die ouditeur-generaal (OG), me. Tsakani Maluleke, wat Vrydag voor die parlementêre staande komitee oor die OG gedien het, skets ʼn somber beeld van die stand van finansiële bestuur in verál ANC-beheerde munisipaliteite landwyd.

Weinig vordering is gemaak om die verlies van R5,2 miljard wat in die 2021/2022-finansiële jaar deur onder meer wanbestuur en korrupsie by 170 munisipaliteite gely is, te herwin.

Dít ten spyte van herhaalde aanmanings van die OG aan hierdie munisipaliteite om regstellende stappe te neem.

Dit is in skerp teenstelling met pres. Cyril Ramaphosa se stellings Donderdagaand oor die sogenaamde suksesse van die ANC-regering se distriksontwikkelingsmodel (DDM) wat dit skynbaar ten doel het om munisipale dienslewering te verbeter.

Meer as R100 miljoen rand is al bestee aan die beplanning van hierdie model sonder enige noemenswaardige resultate.

Indien verder in ag geneem word dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), asook provinsiale regerings oor wydlopende magte beskik om munisipaliteite tot orde te roep, is dit duidelik dat daar geen politieke wil in ANC-geleide regerings bestaan om die korrupsie en wanbestuur hok te slaan nie.

Die ANC-kultuur van wetteloosheid en die stroping van openbare hulpbronne is eenvoudig te diep ingewortel op alle regeringsvlakke.

Hierdie stand van sake bevestig weereens dat die ANC-regering se sogenaamde DDM en sy verbintenis tot beter dienslewering, blote dagdromery en ʼn siniese verkiesingsfoefie is.

Etiese en professionele regering sal slegs herstel word met die verkiesing van ʼn sterk koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.