fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaat verbeur meer as R1,3 miljard in twee termyne onder ANC

Die Vrystaat het in die afgelope dekade meer as R1,3 miljard aan die nasionale regering teruggegee weens die provinsiale regering se onderbesteding.

Die Vrystaatse regering kon ten minste 6 600 huise, 65 nuwe staatskole of 13 nuwe staatshospitale met hierdie fondse gebou het.

In antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer, het die LUR vir finansies in die provinsie, me. Gadija Brown, die onderbesteding aan voorwaardelike toekennings wat van nasionaal ontvang is, bekend gemaak.

Die nasionale tesourie is by magte om enige fondse wat departemente jaarliks nie gebruik nie, terug te neem.

Effektiewelik het die Vrystaat meer as R1,3 miljard verloor wat vir infrastruktuur en dienslewering aangewend kon word, maar na ander provinsies geallokeer is weens onderbesteding.

Slegs in die afgelope vier jaar onder die premierskappe van Sisi Ntombela en Mxolisi Dukwana het die Vrystaat meer as R737 miljoen verloor.

Die departemente wat die meeste moes teruggee, was die departement van gesondheid (meer as R533 miljoen), onderwys (meer as R187 miljoen), menslike nedersettings (meer as R105 miljoen) en polisie, paaie en vervoer (meer as R89 miljoen).

Die ANC kla gereeld die Vrystaat kry te min uit die nasionale fiskus om die probleme in die provinsie aan te spreek.

Uit hierdie syfers is dit egter duidelik die ANC kon in die afgelope tien jaar eenvoudig nie die provinsie se begroting effektief bestuur en fondse tot voordeel van die provinsie aanwend nie.

Onkundige amptenare en swak projekbestuur weens die ANC se beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is grootliks die oorsaak.

Dit terwyl dienslewering en infrastruktuur kwyn.

Die enigste manier om die Vrystaat te red, is deur te registreer en te stem om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.

Saam kan ons die Vrystaat herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.