Die VF Plus verwelkom die terugtrekking van die Mosselbaaise munisipaliteit se besluit om erf 6393 in Danabaai, te verkoop.
Die erf, met ‘n oppervlak van 4 800 vierkante meter, is aanvanklik beoog om teen ‘n bedrag van R980 000 aan SA Global Conquerers Trust verkoop te word. Die eienaar hiervan is ʼn familielid van ʼn plaaslike DA-raadslid, mnr. Lodewyk Coetzee.
Talle inwoners was hoogs ontevrede hieroor en die VF Plus het die mense gesteun in die vorm van ʼn beswaarskrif met 1 307 handtekeninge waarin die munisipaliteit gevra is om nie voort te gaan met die verkoop van die erf nie. Dit is op 22 Januarie vanjaar ingedien.
Die aangeleentheid het groot onmin veroorsaak onder die plaaslike gemeenskap. Die VF Plus was van mening dat daar geldige rede vir die ontevredenheid was en het in die belang van die inwoners ingetree om die proses te stuit.
Die party is steeds van mening dat ‘n regverdige en deursigtige proses nie gevolg is met die aanvanklike besluit om die erf te verkoop nie.
Dit het intussen aan die lig gekom dat ʼn ander persoon voorheen klaarblyklik ook in die erf belang gestel het, maar dat die munisipaliteit toe na bewering besluit het om nie te verkoop nie.
Volgens die VF Plus se inligting het die burgemeester, Dirk Kotze, tydens die raadsbespreking oor die aangeleentheid gesê daar sou waarskynlik geen ander belangstelling in die erf wees nie en daarom is ‘n openbare tenderproses nie gevolg nie.
Dit blyk nou ʼn wanvoorstelling te wees aangesien ‘n sekere mnr. FM Knoetze in sy beswaarskrif aan die munisipaliteit oor die vervreemding van die erf beweer dat hy reeds aan die begin van 2023 sy belangstelling aan die munisipaliteit bekend gemaak het om die erf te koop.
Die VF Plus sal voortgaan om verdere aksies te neem om agter die kap van die byl te kom en sal toesien dat die munisipaliteit die mense van die gebied eerste stel.
Die VF Plus bly toegewyd om die belange van die inwoners te verteenwoordig en om seker te maak dat die munisipaliteit ten alle tye regverdige en deursigtige prosesse volg om die inwoners van Mosselbaai eerste te stel.